Kategorie: Artikels Gepubliseer op Dinsdag, 17 Julie 2012 19:42 Geskryf deur Roedolf Botha Trefslae: 551

Die storie word vertel van twee matrose wat in ’n vreemde stad uit ’n kroeg uit stap in ’n digte mis in. Soos wat hulle hulleself probeer oriënteer kom daar ’n man na die kroeg toe aangestap met ’n indrukwekkende uniform en medaljes wat blink. Die twee dronkies mis dit egter alles en vra hom: ‘Hey, ou, weet jy dalk waar ons is?’ Hoogs ontsteld oor die gebrek aan respek waarmee hy aangespreek word, skel die offisier, ‘Weet julle twee wie ek is?’ Die twee matrose draai na mekaar toe en die een sê: ‘Nou is ons regtig in die gemors! Ons weet nie waar óns is nie en dié ou weet nie wie hý is nie!’
Dis min of meer wat mens voel wanneer jy Richard Dawkins se The God Delusion klaar gelees het, om nie eers te praat van
‘The universe is just stuff, expanding and contracting in space and time, going nowhere, meaning nothing, random noise echoing like gibberish, like nonsense words spoken by nobody to nobody with no intent.’
Indien laasgenoemde woorde waar is, dan is dit darem vreemd dat hierdie doellose, betekenislose wêreld van ons gevul is met mense wat hulle ganse lewensgeluk bou op doel, betekenis en intensionaliteit! So sê Brian McLaren en Zacharias beaam dit:
‘But eventually, belief in a world birthed by accident, a life that has no purpose, morality without a point of reference except for those absolutes that have been smuggled in – well hidden behind the mask of relativism – and death that ends in oblivion made me prefer the possibility of this oblivion to the sheer weight of the emptiness of a God-less world.’
Zacharias vertel verder hoe dat hy in sy jong dae gesukkel het met die sinvolheid van die lewe en dat dit hom gedryf tot ’n selfmoordpoging. Hy het in ’n hospitaal in New-Dehli beland waar medici geveg het om sy lewe. Hier het iemand vir hom ’n Bybel gegee en die verhaal van Jesus Christus is vir hom gelees. Hy het verskeie kere nadat hy tot geloof gekom het gesê dat hy oneindig dankbaar was dat ’n ateïs soos Richard Dawkins of
Hierdie stellings word nie net uit die lug gegryp nie. Ons sien die sinneloosheid van bestaan sonder God wanneer ons kyk na die lewens van nie-gelowiges soos o.a. Voltaire wat tot met sy dood in bitterheid geleef het, en Ernest Hemmingway wat uiteindelik sy eie lewe geneem het. Aangrypend egter is die lewe van die ateïstiese filosoof Jean-Paul Sartre wat op sy sterfbed sy rug gedraai het op ateïsme – tot groot ontsteltenis van ander nie-gelowige filosowe - omdat hy sy ateïstiese bestaan nie kon volhou as ’n lewensvatbare filosofie nie. Luister na sy woorde op sy sterfbed:
‘I do not feel that I’m the product of chance, a speck of dust in the universe, but someone who was expected, prepared, prefigured. In short, a being whom only a Creator could put here; and this idea of a creating hand refers to God.’
Waarom is dit so? Want wanneer ons slegte nuus ontvang by die spesialis, wanneer ons langs iemand se sterfbed staan, of wanneer ‘n oorlog uitbreek dan is daar iets binne-in ons wat uitskree dat die lewe darem rigting, doel en betekenis moet hê!
Op hierdie punt mag sommiges dalk die beswaar maak dat ‘n mens nie maar net in God kan glo bloot omdat jy die begeerte het na byvoorbeeld doel, betekenis en hoop nie. Die begeerte na iets maak tog nie die vervulling of die bestaan daarvan waar nie. Ek het al soveel keer gehoor dat ’n ateïs beweer dat mens nie in God kan glo nie aangesien geloof in God maar net opgetower word deur die menslike begeerte om hoop en betekenis te hê. Dalk moet ons weer bietjie hieroor nadink. My reaksie daarop sou eerstens wees om te sê dat menslike begeertes ook nie beteken dat so iets níé waar is nie. Ek het byvoorbeeld die begeerte om ‘n liefdevolle en relatief gelukkige huwelik te hê. Wel, ek het dit. Die feit dat ek dit begeer beteken nie dat ek dit nooit sal kan kry nie. Ek begeer ook om ’n lekker bord kos te kan geniet. Wel, ek geniet goeie kos elke dag. Ek begeer om vervulling te kry uit my werk. Wel, ek kry vervulling uit my werk en is geweldig passievol oor wat ek doen. Trouens, ek dink hierdie beswaar moet eerder andersom gesien word. Vir elke ander begeerte op aarde naas die bestaan van God, is daar die een of ander soort van vervulling beskikbaar. Dit geld vir begeertes na gesonde verhoudings, intimiteit, kos, seks, sukses, prestasie, rus, ontspanning en nog ander. Vir alles is daar moontlike vervulling beskikbaar. Sou dit nie in die lig daarvan, vreemd wees dat elke mens ’n begeerte het na ’n sinvolle lewe vol betekenis en hoop op die toekoms, en dan tevrede te moet wees met ’n sinnelose en hopelose bestaan sonder enige daarvan nie? Die res van die lewe werk nie so nie! Dink ’n bietjie oor waarom ons so ongelukkig raak wanneer ’n tragedie of selfs net ongemak oor ons pad kom. Dit maak ons ongelukkig juis omdat ons die begeerte het na vervulling en geluk en omdat ons weet dat vervulling en geluk gewoonlik beskikbaar is! Ons begeer dit en het die vervulling daarvan al gesmaak! Dit is wat ons help om deur die moeilike tyd te kom en daarom streef ons weer om beter te voel!