Dialoog

Switch to desktop

Tuis

‘n Reaksie Op Hier Staan Ek

artikel-hierstaanek‘n Kerk Waar Mense Vrae Kan Vra en Mag Twyfel – ‘n Reaksie Op ‘Hier Staan Ek...

Kommenataar oor hierdie Artikel
Leon Atterbury
Gillie Gehle
Ander korter bydraes 
 
Die tyd het gekom dat die Christelike kerk in die algemeen ruimte maak vir mense wat worstel met twyfelvrae en ongeloof. Ek het met groot nuuskierigheid kennis geneem van die artikel in Rapport getiteld “Predikante bieg oor twyfel” (22/10/2011). Die artikel het gepraat van vyf predikante in hoofstroom Afrikaanse kerke wat Sondae op die kansels staan en preek, maar nie meer glo in die basiese waarhede van die Christelike belydenis nie. Daar is ook agtien ‘gewone mense’ wat in die boek vertel van hulle pad uit die Christelike geloof na agnostisisme. Ek was geïnteresseerd omdat ek self ’n geestelike leier is wat vir jare ’n leraar in die NG Kerk was. Ek lees gereeld publikasies van mense wat buite geloof staan en vertel van hulle reis na ongeloof en hier was nou uiteindelik iets in Afrikaans! Ek kon nie wag nie! Ek staan vandag steeds in ’n geestelike leierposisie maar buite die institusionele kerk. Anders as die skrywers van ‘Hier staan ek...’, het ek egter nie afstand gedoen van kern leerstellinge van byvoorbeeld die apostoliese geloofsbelydenisse soos die versoeningsdood van Jesus en sy liggaamlike opstanding en verlossing deur genade nie. Maar wag, voor ek aangekla word van fundamentalisme...

Nadat ek die publikasie by Exclusive Books bestel het en vir weke die personeel mal gehad het met my onophoudelike navrae oor of die boek al gearriveer het, het ek dit uiteindelik in die hande gekry en dadelik begin verslind! Ek is regtig diep geraak deur wat ek gevind het. Maar ook vies en teleurgesteld.

Ek is geraak deur die verhale van opregte soeke na God, die trane, moeilike gesprekke met gelowiges en mede-twyfelaars. Ek het telkens ’n knop in die keel gehad oor worstelinge wat gewissel het tussen twyfel aan die een kant en nog méér twyfel aan die ander kant, oor hartseer gesprekke en belydenisse teenoor vriende en lewensmaats. Ek kon sien dat die besluite na ’n agnostiese perspektief nie vir hierdie mense maklik en eenvoudig was nie.

Ek is egter ook vies. Vies dat die kerk skynbaar geen plek gehad het vir sommige van hierdie Godsoekers nie, maar slegs bestaan het uit, en ruimte gemaak het vir, ‘Godkenners’. Dis ’n jammerlike feit dat hierdie worstelaars se geestelike reise weg van geloof in die meeste gevalle, veral aanvanklik, alléénreise was. Hulle was nie toegelaat om te twyfel en vrae te vra binne die veiligheid van ‘n geestelike gemeenskap waar hulle deur hulle worsteling en twyfel kon werk, totdat heling kon plaasvind en geloof uiteindelik weer kon terugkeer nie. Dit was natuurlik veral waar van die predikante. Die gevoelens van eensaamheid het veroorsaak dat hulle simpatieke luisteraars begin soek het, en natuurlik gevind het, maar buite die kerk en konvensionele geloof. Uiteindelik was dit ’n kwessie van twyfelaars wat die twyfelaars lei en die resultaat was voorspelbaar: ’n lewe van twyfel en onsekerheid. Die jammerte is dat sommige twyfelaars deur sosialisering en rasionalisering geheel en al tevrede geraak het met hulle agnostiese lewenstyle en selfs evangeliste geword het vir ’n ‘nuwe waarheid’. 

Daar is egter nog ’n saak wat my irritasie laat opwel en dit is dat die kerk se teologie soms so oppervlakkig en piëtisties kan wees dat daar selde intelligente en goed deurdagte antwoorde beskikbaar was vir baie van hierdie Godsoekers. Hulle worstelvrae is dikwels tegemoet gekom met oppervlakkige en naïewe pogings deur goedbedoelde Christene, maar wat geen bevrediging gebied het nie. Die jare van geestelike veiligheid in ’n Christelike Suid-Afrika het die kerk sag en onbekwaam gemaak om sinvol met twyfel en ongeloof in gesprek te tree. Vir jare was dit nie nodig om die geloof van die Bybel te verdedig nie, aangesien dit vir lank was wat meeste mense geglo het. Dinge het egter verander. Diverse wêreldbeskouinge en ’n pluralistiese godsdiens perspektief het dit weer nodig gemaak dat die kerk soos Paulus van ouds op die markplein en Areopagus met die aanhangers van ander geloofs-idees moet kan in gesprek tree. Die pad vorentoe is egter nog lank.

Ek was ook teleurgesteld nadat ek die boek gelees het. Teleurgesteld in die intellektuele redes en argumente wat genoem is vir waarom mense uiteindelik besluit het om die Christelike geloof te verlaat. Ek was teleurgesteld omdat ek verwag het om uitgedaag te word en dat ek selfs in my eie geloof getoets gaan word. Dit was egter geensins die geval nie. Ek was soms verstom oor die naïwiteit en onkunde van sommige van die twyfelaars! Kom ek noem ’n paar voorbeelde wat verweef met mekaar in die boek genoem word.

• Die eerste interessante ding is dat in die meeste gevalle, die twyfelaars in die boek ’n keuse moes maak tussen ’n fundamentalistiese, piëtistiese (of charismatiese) geloof aan die een kant, en intellektuele, wetenskaplike denke aan die ander kant. Verskonings vir ongeloof is gedurig voorgehou deur byvoorbeeld te beweer dat die twyfelaar nie meer kon saamleef met die idee dat God die heelal in ses dae geskep het (Genesis 1), terwyl die wetenskap beweer die aarde is miljoene jare oud nie. Waarom egter jou geloof hieroor verlaat? Daar is verskeie wetenskaplikes (soos bv. Francis Collins om slegs een te noem) en teoloë wat geen spanning sien tussen ‘n verantwoordelike omgang met die Genesis verhaal en iets soos die ouderdom van die heelal en die aarde nie. Om jou geloof hieroor te verlaat is kortsigtig, want die Christelike geloof is nie bang of blind vir deurdagte en verantwoordelike wetenskaplike denke nie. 

• Ander mense noem weer dat hulle bewus geword het van parallelle verhale met die Jesus-storie, dat sy storie nie regtig uniek is nie. Antieke mites soos dié van Mithras, Dionisius, Isis en Osiris en dat almal sterwens en opstandingsverhale het. Hierop wil ek net twee vinnige opmerkings maak. Eerstens slinger geleerdes en skrywers hierdie idee van parallelle ongekwalifiseerd rond en haal mekaar oor en weer aan asof dit wet is. Kom ons neem Mithras as voorbeeld aangesien dit die mees gewilde vergelyking is met die Bybelverhale oor Jesus. Mithras was ’n Persiese godsdiens wat 4 eeue voor Christus ontstaan het, maar wat vir die eerste keer in Westerse literatuur genoem in tydens die besoek van Tiridates, koning van Armenië, aan Rome, in 66 nC. Mithras, as misteriegodsdiens, is eers in 90 nC vasgestel. Daar word beweer dat Mithras, soos Jesus, ’n maagdelike geboorte gehad het. Die feit is dat hy nie het nie, volgens die legende self is Mithras uit ’n klip gebore. Volgens sommiges was hy in grot gebore wat vir ’n stal aangesien kon word. Wel miskien, ons is nie seker nie, aangesien die getuienis uit primêre bronne hieroor onduidelik is. Daar word verder beweer dat hy homself geoffer het vir wêreldvrede. Geen getuienis hiervan is egter in die Mithrastekste teenwoordig nie. Die naaste wat ons daaraan kan kom is dat hy ’n bul geslag het. Verder word gesê dat hy in ’n spelonk begrawe is en na drie dae opgestaan het. Dit is onwaar aangesien ons niks weet van die dood van Mithras nie. Daar is geen tekstuele verwysings vir einge parallelle voor die tyd van Jesus nie, slegs populêre aannames. Titels word aan Mithras toegeskryf soos Goeie Herder, die weg, waarheid en die lewe, die Woord en redder. Daarvan is daar net so min verwysings in enige primêre bronne. Laastens word daar beweer dat daar ’n sakramentele maaltyd in Mithras voorkom wat sterk ooreenkomste toon met die Nagmaal. Dit kan wel waar wees, maar dit is nie juis noemenswaardig nie, aangesien die meeste godsdienste een of ander soort van heilige maaltyd as deel van hulle rituele gebruik. Wat die parallelle met die opstanding aanbetref moet dit in gedagte gehou word dat waar wesens in ander godsdiensverhale wel lewend word (soos Isis en Osiris), het dit geheel en al niks te make met wat die Nuwe testament skrywers bedoel het met opstanding nie. Wanneer ’n antieke misterie-godsdiens praat van ’n opstanding, dan dui dit gewoonlik op ’n voortleef as ’n gees of spook in die onderwêreld. Die Bybelskrywers het egter by opstanding bedoel dat iemand wat fisies dood was nou weer fisies lewe. Dit word nie in ander godsdienste gevind nie. Dieselfde geld vir ander godsdiensverhale wat as ‘paralelle’ voorgehou word. Die tweede saak wat genoem behoort te word aangaande parallelle godsdienstige verhale met die storie van Jesus, is dat selfs al sou daar so iets bestaan soos parallele tussen Jesus en ander godsdienste, dit geen rede sou wees om te twyfel in die integriteit van die Bybel nie. Selfs die ou Calvinistiese idee van algemene openbaring maak dit moontlik dat indien die Christus verhaal ‘die waarheid’ is soos wat Christene glo dit is, dan sal dit tog nie snaaks wees indien spore daarvan tog in ander godsdienste gevind kan word nie! Hoe dan anders? God se waarheid kan tog oral gevind word. 

• Nog ‘n ander rede vir sommige se skuif na agnostisisme is gestimuleer deur rassistiese of seksistiese wanpraktyke en skandelike optredes van Christene of godsdienstige leiers in die geskiedenis. Een skrywer maak byvoorbeeld melding van die slag van Cajamarca in 1532 in Peru, waar 168 katolieke soldate in die naam van Christus, 20 000 Inkas oorrompel en uitgemoor het. Ek moet erken dat deur hierdie as ‘n rede aan te voer vir ongeloof my so effens stomslaan! Natuurlik is dit waar dat Christene of mense wat Christus se naam gebruik baie keer ’n groot teleurstelling is. Ek is net so skaam oor skandelikhede en geweld wat al gepleeg is in die naam van die Christenskap. Ek kan egter nie toelaat dat dit my geloof in die waarheid van die evangelie laat kantel nie, aangesien die Bybel self waarsku dat dit so sal wees! Lees gedeeltes soos Jesaja 58 en die profeet Amos waar die Here sy volk oor die vingers tik omdat hulle juis hulle godsdiens gebruik as verskoning om onreg te pleeg! (Sommige van die skeptici noem natuurlik hier die paar tekste in die Ou Testament soos waar God die opdrag gegee het om die Kanaaniete uit te wis. Kyk hiervoor na ‘n nuwe boek van Paul Copan “Is God a Moral Monster”, waar God se karakter verdedig word in die lig van die aard van die destyde wêreld). Kyk na Jesus in ‘n teks soos Matteus 23 waar hy die skynheilige godsdienstiges waarsku dat hulle in die moeilikheid is! Elke keer wanneer ons dus sien dat ’n Christen oneties optree moet dit ons herinner aan die feit dat Jesus en die Bybel gesê het dit sal so wees. (So verleen dit ook ‘n bepaalde egtheid aan uitsprake in die Bybel). Hou verder in gedagte dat ‘n mens nie godsdienstig hoef te wees om aan verskeie euwels skuldig te wees nie. Neem maar die vorige eeu - een van die bloedigste eeue ooit! Baie van die bloedvergieting van die vorige eeu het plaasgevind onder die bewind van ateïstiese regerings soos dié van Lenin en Stalin. Waarom dan die geloof van Christene uitsonder as verdag wanneer sulke Christene soms verkeerd optree? Ek dink daar is eerder iets anders wat ons in gedagte moet hou vir waarom mense dikwels so destruktief optree. Ons moet eerder herinner word aan die Bybelse gedagte dat elke mens ’n selfsugtige en vernietigende mag binne-in homself het en deurdat ons hierdie sondige mag vrye teuels gee, ons enige stuk gereedskap tot sy beskikking sal gebruik om uitdrukking te gee aan hierdie mag – of dit nou die politiek, filosofie of godsdiens is.

• Die sogenaamde primitiwiteit van die idee dat een persoon moes betaal om ’n hele mensdom te bevry is ook vir baie mense ‘n struikeling. Die kruisiging word soms self met kindermishandeling vergelyk, aangesien God die Vader kwansuis toegelaat het dat dit aan sy eie Seun gedoen is. Die klag van kindermishandeling is eintlik onsinnig, aangesien Jesus as lid van die Goddelike Drie-eenheid, Homself vrywilliglik aan die kruisigingsproses onderwerp het as deel van God se plan. Kindermishandeling, daarenteen is iets waarin die kind geen keuse het nie. Dit is vir my interessant dat mense wel vandag steeds verhale inspirerend vind waar mense hulle eie lewens gegee het om ander te bevry. Dink aan stories soos Jesus of Montreal, Charles Dickens se ‘Tale of two cities’ en selfs meer populêre verhale soos Braveheart en Gladiator. Hierdie stories resoneer met iets in die menslike gees. Waarom? Is dit nie dalk omdat daar iets in die mens ingeskape is van ’n bewussyn van die kosmiese skade wat aangerig is deur die mens se verdorwenheid en dit wat dit kos om alles reg te maak nie: ’n mens wat sy lewe vrywilliglik gee? Dit is ook interessant hoe baie van hierdie spesifieke twyfellaars vleiseters is. Het jy al bygestaan wanneer ’n bees geslag word? Dit lyk nie goed nie, baie primitief. Die dood vir die bees beteken egter lewe vir my. Lyk my dis hoe dit werk: die dood bring lewe. As dit nie vir hierdie “primitiewe” beginsel was nie, dan het ons lankal uitgesterf!

• Nog iets wat my in die algemeen gekwel het van die boek was dat die enigste denkendes wat in ‘Hier staan ek...’genoem is as bronne vir hierdie agnostiese idees, liberale teoloë en wetenskaplikes is soos John Dominic Crossan, Geza Vermes, Marcus Borg, John Shelby Spong, Bart Ehrman, Julius Wellhauzen en selfs sogenaamde ‘Nuwe Ateïste’ soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens. Ek gee toe dat sommige van hierdie mense goeie teologiese en historiese insigte bring rondom die Bybelverhale. Daar is egter géén sprake van goeie akademici (teoloë, filosowe en wetenskaplikes) met meer behoudende Christelike standpunte soos Oxford geleerde N.T. Wright, of Gerd Theissen, Udo Schnelle, Ben Witherington, Scot McKnight, Allister MacGrath, C.S. Lewis, Francis Collins, Madeleine L’Engle, Leonard Sweet, Eugene Peterson, Robert Barron, Dallas Willard, Alvin Plantinga en nog baie ander nie. Hierdie geleerdes maak baie intellektuele erns met geloof en nie een van hulle het ’n fundamentalistiese, naïewe, of piëtistiese tipe van geloof nie. Nog minder word daar in ‘Hier staan ek...’ gepraat van eietydse verhale waar ateïstiese of agnostiese intellektueles na God gesoek het en Hom wel gevind het in die kernwaarhede van die ortodokse geloof van die Bybel. Name wat opkom is Gary Habermas, Craig Keener, Lee Strobel, Peter Hitchens, Erwin MacManus, A.N. Wilson en nog ander. Wat baie interessant is, is dat meeste twyfellaars in die boek heel tevrede klink met hulle huidige agnostiese posisie en dat hulle opmerkings maak soos ‘nooit weer terugkeer na ortodokse geloof’ of ‘vir goed my rug gedraai het op die leer van die kerk’. Ten spyte van aansprake tot ‘intellektuele openheid’ en ‘soeke’ is daar dus nie regtig ’n gewilligheid om te luister na ’n Christenskap wat wel sin maak nie. Die Rubicon is oorgesteek, die keuse is finaal gemaak: hulle draai nie terug nie, al is die belangrikste Christelike bronne nie geraadpleeg nie. Dit is teleurstellend. Nie veel van ‘n ‘openheid’ nie. 

• Onvolledige navorsing en gebrek aan goeie behoudende teologie, dra maklik by tot die eerste groot lewensontnugtering en dan bly daar gou geen geloof meer oor om die persoon te dra deur die fases van ontnugtering, tragedie en swaarkry nie. Gebede wat nie verhoor word nie, ’n geliefde wat nie genees word nie, of die afsterwe van ’n naasbestaande word in so ’n liberale intellektuele konteks die finale strooi wat geloof se rug breek en dan is die koeël deur die kerk. Vergelyk dit met die geloof van ’n James Hudson Taylor wat byna die helfte van sy gesin aan die dood op die sendingveld afgestaan het en steeds net die goedheid van die Here besing het? Soveel mense in die geskiedenis getuig dat die evangelie van Jesus ‘werk’ in die regte lewe met sy geweldige onberings.

Daar is nog sake wat by die skepitici in die boek twyfel veroorsaak het en waaroor ons nog lank kan praat maar maar hoe dit ook al sy, twyfellaars het ruimte en spasie nodig om te twyfel. Die kerk moet vir hulle daardie ruimte kan gee. Daar moet ruimte gegee word om deur sake soos bogenoemde te kan werk sonder dat daar summier wenkbroue gelig word omdat iemand dit durf waag om besware te opper of te twyfel. Om hierdie selfde rede is ek deel van ’n onafhanklike gemeente in Pretoria-Oos waar alle mense uitgenooi word om vrae te vra en kommentaar te lewer na die boodskap op ’n Sondag. Elke week word daar wonderlike skeptiese vrae gevra en dit word verwelkom. Waarom sal ons nie? Die Christelike geloof staan op sterk intellektuele fondasies en ons hoef nie geïntimideer te voel nie. Ons kan met geduld en liefde luister sonder om veroordelend te wees. Elke persoon behoort toegelaat te word om op sy of haar eie tempo te groei. ’n Nuwe soort kerk is nodig.

info@dialoog.co.za

Top Desktop version